Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 23 FEBRUARIE 2014

Goeie môre, U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SA AMSAT BREI SY SATELLIETPROJEK VIR SKOLE UIT

INSKRYWINGS VIR DIE RAE IN MEI OPEN 10 MAART

NOMINASIES INGEWAG VIR LEDE VIR RADIO ZS SE REDAKSIEKOMITEE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SA AMSAT BREI SY SATELLIETPROJEK VIR SKOLE UIT

SA AMSAT het sy oproep aan skole vir die voorlegging van voorstelle vir die insluiting van klein wetenskaplike projekte in die KLETSkous Cubesatprojek uitgebrei. Skole word uitgenooi om idees vir projekte in te dien. Elke voorstel sal geëvalueer word en die vyf mees oorspronklike en praktiese voorstelle sal gekies word vir die bou van 'n prototipe waarvoor SA AMSAT R1 000 vir elk van die vyf beskikbaar sal stel. Die skole, waarvan die projekte gekies is, sal uitgenooi word om kort voorleggings te doen by die simposium van SA AMSAT wat op 23 Mei in die Innovation Hub in Pretoria gehou sal word.

Die sluitingsdatum vir die indiening van voorstelle is 31 Maart 2014. Besoek www.amsatsa.org.za..

INSKRYWINGS VIR DIE RAE IN MEI OPEN 10 MAART

Die SARL sal op 10 Maart 'n nuwe aanlyn registrasiestelsel vir die Radioamateureksamen in werking stel. Kandidate vir die eksamen in Mei kan na 10 Maart die SARL se webtuiste besoek vir besonderhede oor hoe om vir die eksamen in te skryf.

SARL STEL 'n KOÖRDINEERDER VIR JEUGAKTIWITEITE AAN

Die Raad van die SARL het Mitchel Mynhardt, ZS6YH, as jeugkoördineerder aangestel. Mitchel het as tienderjarige 'n radioamateur geword en was aktief in beide nasionale en internasionale kompetisies. Hy het in die Oos-Rand Radioklub as jeugkoördineerder gedien en was vir die afgelope ses jaar ook betrokke by JOTA en die Voortrekkers.

Die aanstelling is gister tydens die jaarlikse strategiese indaba gedoen. Tydens dieselfde vergadering is Richard Peer, ZS6UK, as notulesekretaris aangestel.

NOMINASIES INGEWAG VIR LEDE VIR RADIO ZS SE REDAKSIEKOMITEE

Die redakteur van Radio ZS, Dennis Green, ZS4BS, wag nominasies in vir lede vir die redaksiekomitee wat in die lewe geroep wprd om hom te help met die evaluering en kies van tegniese artikels vir Radio ZS. Geskikte kandidate moet 'n tegniese agtergrond hê en moet radioamateurs met ondervinding wees. Belangstellendes stuur asb. 'n beknopte CV met nadruk op u ondervinding aan radiozs@sarl.org.za.

KAAP II AMATEURRADIO CUBESAT DIE NAAM LO-75 TOEGEKEN

Die Kaap II amateurradiosatelliet word nou genoem Universiteit van Louisiana OSCAR 75 of LO-75.

OSCAR se nommeradministrateur Bill Tynan, W3XO, het vir Nick Pugh, AMSAT, se mentor K5QXJ, onlangs van die besluit in kennis gestel.

Die Kaap II amateurradiosatelliet werk op 145,825 MHz FM met 'n GG-baken met roepsein W5UL. Dit sluit ook digiherhalers, teks na spraak bedryf, 'n simpleksherhaler e-pos en twietfunksies in. Die programmatuur vir grondstasies kan van www.ulcape.org afgelaai word.

KOMPETISIENUUS

Vir die Februariebeen van die SARL se Nasionale Velddag, gehou op 8 en 9 Februarie het die Kompetisiekomitee 18 logstate ontvang. Elf van die logstate was van veldstasies en sewe van Algemene stasies. Dankie aan almal wat deelgeneem het en 'n spesiale woord van dank aan almal wat logstate ingedien het.

Die uitslae per kategorie is as volg:

A. Veldstasie Multi-operateur.
1ste Oos-Rand ARK, ZS6ERB, met 129 120 punte, 2de Highway ARK, ZS5HAM met 69 000 punte, 3de Wesrand ARK, ZS6WR, met 50 880 punte.

B. Veldstasie Multi-operateur QRP.
Geen inskrywing.

C. Veldstasie Enkeloperateur.
1ste Dennis Green, 7P8DG, met 15 648 punte, 2de Rob Parkinson, ZS1RAP, met 12 192 punte

D. Veldstasie Enkeloperateur QRP.
1st Richard Hayter, ZS6RSH, met 24 624 punte.

E. Ultralig draagbaar
1st Eddie Leighton, ZS6BNE, met 1 890 punte.

F. Algemene stasies
1st Pieter Jacobs, ZS6XT, met 28 140 punte, 2de Johan van Zijl, ZS4DZ, met 6 012 punte, 3de Pravin Kumar, ZS5L,T met 5 824 punte.

PEARS NASIONALE BHF/UHF-KOMPETISIE

Nieteenstaande die swak voortplantingstoestande wat tydens die kompetisie, as gevolg van die hittegolf in meeste dele van die land, geheers het, het verskeie amateurs die swak toestande die hoof gebied. Statistiek toon dat 485 kontakte deur 46 amateurs bewerkstellig is soos afgelei uit 24 logstate wat uit afdelings 1, 2, 3 en 6 ontvang is. Die logstate verteenwoordig 52% van die amateurs wat aktief was en is 'n groot verbetering teenoor verlede jaar. Daar was heelwat aktiwiteit in die Basis-, Swerf- en Beperkte kategorieë op al die bande: 50, 70, 144, 432 en 1 296 MHz.

Nuus ontvang uit afdeling 4 was dat Nico, ZS4N, 'n entoesias op BHF, nie kon deelneem nie aangesien sy roteerder stukkend was en sy rigstraler op die grond was. Dennis Green, ZS4BS, het gerapporteer dat hy op 50,200 en 144,200 geroep het maar weens die swak toestande, niks gehoor het nie.

Goeie nuus is egter dat Andre, ZS2ACP, Sian, ZS3SVD, en Dick, ZS6BUN, die langste afstande d.m.v. digitale werking op 50 MHz bereik het. Dit was ook 'n verrassing om te ontdek dat verskeie stasies in afdeling 2 rondgeswerf het, hulle was: Mandy ZS2AV/R, Andrew ZS2G/R en Simone ZS2SC/R. PEARS bedank al die deelnemers vir hulle ondersteuning. Die resultate sal gedurende hierdie week bekend gemaak word.

SARL Digitale Kompetisie.

Die kompetisie vind vanmiddag van 13:00 tot 16:00 UTC plaas met PSK31 en RTD op 80 meter (3 580 - 3 600 kHz); 40 meter (7 040 - 7 060 kHz) en 20 meter (14 070 tot 14 099 kHz).

PSK31 word verkies by die onderpunt van die gespesifiseerde frekwensie en RTD word verkies aan die bopunt van die gespesifiseerde frekwensies. Neem asseblief kennis dat HSB ten alle tye gebruik moet word. Verwys na Algemene Reël 16.

'n Stasie mag twee keer per band gekontak word, eenkeer op RTD en eenkeer op PSK31. 'n RST-verslag plus 'n opeenvolgende reeksnommer wat by 001 begin word uitgeruil. Logs moet teen 2 Maart 2014 by contest@sarl.org.za ingedien word.

SARL Hamnet 40 m Gesimuleerde Noodkompetisie.

Hierdie populêre kompetisie vind plaas vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op Sondag 2 Maart 2014 en dit is 'n foonkompetisie in die bandsegmente 7 063 - 7 100 kHz en 7 130 - 7 200 kHz. Deelname kan wees as 'n enkeloperateur stilstaande mobiel; 'n enkeloperateur draagbare, 'n Multi-operateur draagbare of 'n enkeloperateur basisstasie. Dit is oop vir alle radioamateurs in Suid- Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Mosambiek, Lesotho, Marioneiland en Suid-Afrikaanse Antarktika. Slegs kontakte met hierdie gebiede sal tel.

'n Seinverslag gevolg deur 'n driesyfer getal soos bepaal deur die kategorie van deelname word uitgeruil. Logs moet teen 10 Maart gestuur word aan Hamnet Oos-Kaap, Al Akers, ZS2U, Clarencestraat 53, Westering, Port Elizabeth, 6025 of per e- pos aan contest@peham.co.za.

Kry die volledige reëls vir beide kompetisies in die 2014 SARL Kompetisiehandboek.

BHF-HERHALERS IN MPUMALANGA

Vordering word gemaak met die insameling van inligting rondom amateurherhalers in Mpumalanga. Piet, ZS6G, berig dat hy baie bruikbare inligting ontvang het vanaf die volgende klubs:
Coalfields ARC in Witbank, OTL Radioklub in Middelburg, Long Tom Radioamateurklub in Lydenburg en Laeveld Amateurradioklub in Nelspruit.

Indien daar nog klubs of individue is wat nog nie inligting vir Piet gestuur het nie, moet hulle dit so spoedig moontlik stuur aan mprepeaters@gmail.com met 'n afskrif aan repeaters@sarl.org.za. Die sluitingsdatum vir instuur van inligting is Vrydag 28 Februarie waarna Piet die saamgestelde verslag so spoedig moontlik aan die SARL en ander belangstellende partye wil bekend maak sodat die nodige opvolgwerk gedoen kan word.

SNUFFELMARKTE

Die Wes-Rand Amateurradioklub se volgende snuffelmark begin op 12:00 op Saterdag 1 Maart 2014 by hul klubhuis te Krotonstraat Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is welkom. Vir meer inligting, kontak Geoff, ZS6GRL, by 082 546 5546.

Moenie die Kaapstad ARK se pronksnuffelmark misloop nie.

Die datum van die jaarlikse snuffelmark is maklik om te onthou, altyd die eerste Saterdagmiddag in Maart by die CTARC-klubhuis, uit Laidlawlaan in Rondebosch. Hierdie jaar is dit op 1 Maart, beginnende om 12:00.

Hierdie jaar betaal verkopers R10 om te help met die betaling van kostes, maar kopers en snuffelaars betaal niks. Die fooi laat verkopers toe om op die grasperk direk voor die klubhuis te parkeer. Aangesien dit 'n klein area dek, word kopers en andere versoek om in die plaveide parkeergebied langs Laidlawlaan, onmiddellik langs die snuffelmark te parkeer.

Verkopers word daaraan herinner om asb. hulle eie tafels te bring, indien hulle dit benodig, aangesien die klub net 'n beperkte aantal tafels het.

Koue verversings en versnaperings sal heelmiddag beskikbaar wees. Die Antieke Draadloosvereniging sal interessante ouer toerusting ten toon stel.

Daar is nie 'n beter tyd as nou om ongebruikte en surplus artikels in hok uit te sorteer nie. Bring dit na die CTARC se jaarlikse snuffelmark en skakel dit oor in kontant. Wie weet, u mag selfs beter of meer interessante speelgoed raakloop om huis toe te neem en te geniet.

Begin beplan nou en die CTARC sien daarna uit om al die vriendelike glimlagte van hulle mede-amateurs van in die nabyheid van die Kaap te sien. Hulle sien julle daar om 12:00 op die 1ste Maart.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak aktief gaan wees. Sonvlek AR1982 het 'n "beta-delta-gamma" magneetveld en huisves genoeg energie vir M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 120.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Daar behoort ook 'n paar 6 m openinge vroegaand te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

23 Februarie – Vanmiddag, SARL Digitale Kompetisie 13:00-16:00 UTC.
28 Februarie - Sluitingsdatum vir Jeug Opstelkompetisie.
28 Februarie –Laaste dag vir instuur van data op herhalers in Mpumalanga na mprepeaters@gmail.com en repeaters@sarl.org.za.
02 Maart - Hamnet 40 m Gesimuleerde Noodkompetisie12:00 tot 14:00 UTC.
10 Maart - Laaste dag vir instuur van logstate van Hamnet Gesimuleerde Noodkompetisie aan contest@peham.co.za.
15 Maart - Laaste dag vir instuur van voorstelle vir voorleggings vir die 2014 SA AMSAT Ruimtesimposium aan saamsat@intekom.co.za
31 Maart – Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die Skole Satellietprojek aan SA AMSAT. Besoek www.amsatsa.org.za.

Die 2014 SARL Dagboek van Gebeure sal in die komende week op www.sarl.org.za. beskikbaar wees vir aflaai. Kry 'n afskrif en hou dit handig in jou radiokamer.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX

======================= Boodskap Eindig =======================

Om u e-pos-inskrywing in hierdie poslys te verwyder of te redigeer gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003